Hardloop die wedloop wat God voor jou lê

SKRIFLESING:        Hebreërs 12:1-3
FOKUS:                       Hebreërs 12:2
TEMA:                        Hardloop die wedloop wat God voor jou lê met volharding!

Laai die Bybelstudie as ‘n Word-dokument af.

In Hebreërs word ons aangemoedig om in die geloof te volhard ten spyte van moeilike omstandighede. In ons Skrifgedeelte word geloof vergelyk met ’n wedloop: ons word soms moeg, maar ons moet alles doen om by die wenstreep te kom!

Inleiding

  1. Wat is “volharding”? Hoor by elkeen en kom by ’n definisie uit.
  2. Gaan in die ry af en hoor by elkeen waarin hy of sy volharding het.

Om ons geloofswedloop suksesvol te kan voltooi, is drie dinge nodig:

[1] Vergemaklik jou wedloop deur al jou laste en sonde af te gooi

  1. Hoekom wil ’n atleet sover moontlik sonder enige laste (ekstra gewig) deelneem?
  2. Wees lekker prakties: Maak ’n lys van die dinge wat vir ons laste kan wees in ons geloofswedloop.
  3. In die lig van die wedloop, wat beteken dit dat sonde ons “maklik verstrik”?
  4. Wees lekker prakties: Van watter verskillende sondes wat “algemeen” is vir ons ouderdom beveel die Here ons om ontslae te raak?

Die Here verwag nie van ons om ekstra bagasie te dra in hierdie wedloop nie, maar bloot om te hardloop!

 [2] Hardloop jou wedloop met volharding

  1. Wat beteken dit prakties om die geloofswedloop te “hardloop”?
  2. Waarom is volharding so belangrik vir ’n suksesvolle geloofswedloop?

In die geloof is ons nie besig met ’n naelloop van ’n paar honderd meter nie, maar met ’n langafstand-wedloop. Hardloop daarom met volharding!

[3] Vestig jou oog op Jesus

  1. Die opdrag om te hardloop met “die oog gevestig op Jesus” maak dit duidelik hoe daar gehardloop moet word. Wat beteken dit prakties?
  2. Hoekom kan en moet ons ons Here Jesus duidelik voor oë hou?
  3. Hoekom word ons Here Jesus die Begin en Voleinder van die geloof genoem?
  4. Hoekom word daar hier gepraat van die kruis as ’n skande?
  5. Hoe ondersteun die Heilige Gees ons in die geloofswedloop? 2 Tim 1:7.
  6. Wat sal die gevolg wees van oë wat nie op Jesus gevestig is nie?

Afronding

  1. Watter dinge is volgens 12 nodig om jou geloofswedloop suksesvol te voltooi?

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *