In Johannes 4 openbaar die Here sy onbeskryflike liefde vir eenvoudige mense soos ek en jy. Hiermee saam openbaar Hy hoe ek en jy sy onbeskryflike liefde met iemand anders kan deel. Christus gee nie vir ons ’n uitgewerkte “resep” nie – maar Hy gee vyf belangrike riglyne.
1. MAAK KONTAK (Johannes 4:7-9)
- Wat gebruik Jesus om ’n gesprek met hierdie vrou aan te knoop? Wat leer ons hieruit?
- Wat leer ons daaruit dat Jesus as Jood met hierdie Samaritaanse vrou in die publiek praat? Vgl. Galasiërs 3:28.
2. FOKUS OP DIE GEESTELIKE (Johannes 4:10-15)
- Wat leer ons alles uit hierdie gedeelte oor hoe ons die gesprek vanaf die aardse na die geestelike kan vat?
- Waarna verwys Jesus met “die lewende water”? Vgl. Johannes 7:38-39.
- Watter troos is die Heilige Gees se werking in ons geloofsgesprekke met ander?
- Hoekom sal of sal jy nie die mens se grootste dors beskryf as ’n dors na God? Vgl. Psalm 42:2.
- Hoe sou ons gereageer het as ons in Jesus se posisie was en hierdie vrou steeds nie besef waaroor Hy praat nie? Wat leer ons uit sy reaksie?
3. OPENBAAR DIE PERSOON SE GROOTSTE NOOD (Johannes 4:16-18)
- Beoordeel die volgende: “Voordat mens bereid sal wees om die geskenk van lewende water te ontvang, moet mens eers besef hoe nodig jy dit het”.
- Wat was hierdie vrou se grootste lewenskrisis? Hoe is dit te siene dwarsdeur hierdie Skrifgedeelte?
- Hoe kan ons op taktvolle wyse in ons geloofsgesprekke met ander uitkom by die betrokke persoon se grootste nood?
4. VERMY KANTLYNSAKE (Johannes 4:19-24)
- Hoe reageer hierdie vrou toe die Here haar sonde ontbloot? Wat leer ons hieruit?
- Wat openbaar die Here in 1 Timoteus 1:4 en Titus 3:9 oor kantlynsake?
- Wat is die kern van Jesus se antwoord oor die vraag oor waar ’n mens moet aanbid?
5. VERKLAAR OPENLIK (Johannes 4:25-26)
- Wat doen Jesus toe die vrou uiteindelik bereid is om te luister? Wat leer ons hieruit?
- Wat is die wonderlike gevolge van hierdie vrou se bekering? Johannes 4:27-42.
