Filippense 2:6-7
Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.
Filippense 2:5-11 is uniek in die sin dat dit ons Here Jesus se eie gesindheid teenoor sy menswording beskryf. Hier hoor ons wat Hy bereid was om in ons plek te doen.
Laai die Bybelstudie as ‘n Word-dokument af.
- Wat beteken dit dat Jesus “in die gestalte van God was” (Filippense 2:6)?
- Wat beteken dit dat Hy “die gestalte van ’n slaaf” aangeneem het (Filippense 2:7)?
- Wat sê die volgende woorde van ons Here Jesus se gesindheid teenoor sy menswording: Hy “het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie” (Filippense 2:6b).
- Hoekom is die beskrywing van ons Here Jesus se menswording as ’n “vernedering” so akkuraat?
- Hoekom het Jesus die menslike natuur aangeneem? Vgl. Hebreërs 2:14, 17.
- Gee verskeie redes hoekom kruisiging as ’n “vernedering” beskou kan word. Vgl. Deuteronomium 21:23; Galasiërs 3:13.
- Wat leer ons uit die feit dat Jesus juis “gehoorsaam” was tot in die dood?
- Hoekom was Jesus gehoorsaam tot aan die dood? Vgl. 2 Korintiërs 5:21.
- Wat is die gevolg van Jesus se menswording en sterwe volgens Filippense 2:9-11?
Toepassing
In die lig van alles wat sover bespreek is, watter “gesindheid” word daar van my en jou verwag? Vgl. Filippense 2:3-4. Wees prakties.